Nie een van ons twee is juis 'globetrotters' nie, so hoekom die reis-tema?
Die afgelope jaar verhouding was vol van uit-die-tas-uit-leef kuiers, laaste koppies koffie/tee op die lughawe en heeltemal te veel afskeid neem. Vir ons bymekaarkoms, moes daar ook baie hartseer totsiense in die Kaap gesê word - en moes George en Lily (Petro se katte) saam met ons die lang pad van Kaapstad af na Oos-Londen toe aandurf!
Ons het ook gedink dit is 'n mooi beeld vir ons nuwe avontuur saam. Ons is só opgewonde om hierdie nuwe reis as man en vrou saam aan te pak! Ons het groot verwagtinge dat God sal aanhou om ons grondgebied te vergroot en 'n opregte begeerte dat God ons twee saam kragtig sal gebruik om mekaar en ook ander te dien.
Ons weet ook dat baie van julle verskriklik ver gaan moet reis om ons troudag te kan bywoon - weet asseblief dat ons die grootste begrip het vir die van jul wat nie sal kan nie! Om die roadtrip bietjie meer plesierig te maak, het ons 'n padkaart met 'n paar besienswaardighede opgelaai. Daar is ook 'n paar baie lekker opsies vir verblyf vir die naweek van 26 Julie.
Laastens is dit ons gebed dat ons, in die gees van Matteus 28:19, "na buite-toe" sal leef na alle mense toe - hoe naby of hoe ver hul ookal is.